John Ruskin (8 Februarie 1819 – 20 Januarie 1900) was die voorste Engelse kunskritikus in die Victoriaanse tydperk wat ook as beskermheer van die kunste, tekenkunstenaar, waterverfskilder, sosiale denker en filantroop bekendheid verwerf het. In sy werke het Ruskin 'n groot verskeidenheid onderwerpe behandel wat van geologie tot argitektuur, van mitologie tot voëlkunde, van literatuur tot opvoedkunde, en van botaniek tot politieke ekonomie gestrek het.
Sy skryfstyle en literêre vorme was ewe uiteenlopend. So het essays en skripsies, digkuns en lesings, reisgidse en handboeke, briewe en selfs 'n sprokie uit sy pen gevloei. In sy latere werke het hy die gesofistikeerde skryfstyl, wat kenmerkend vir sy vroeë geskrifte oor kuns was, ten gunste van 'n meer eenvoudige taal laat vaar om sy gedagtes vir 'n breër gehoor toeganklik te maak. In al sy werke het Ruskin die verbinding tussen natuur, kuns en samelewing beklemtoon. As kunstenaar het hy gedetailleerde sketse en skilderye van rotse, plante, voëls, landskapstonele en argitektoniese strukture en versierings geskep.